Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Agricultural Meteorology)
Opsomming
- La Nina het redelik sterk herontwikkel in die eerste deel van Augustus tot redelike sterk vlakke vir hierdie tyd van die jaar. Die word verwag dat La Nina-toestande sal voortduur tot ongeveer Desember/Januarie voordat dit gaan verswak in die tweede deel van die somer. Die Indiese Oseaan het ook baie vinnig oorgegaan in ‘n negatiewe fase van die Indiese Oseaan Dipool.
- Beide die herontwikkeling van La Nina en die verwikkeling in die Indiese Oseaan, is baie positief vir reën vanaf September/Oktober oor die oostelike dele van die land en vanaf November/Desember oor die sentrale tot westelike dele. Droër toestande kan verwag word in die tweede deel van die somer.
- Reënvalverwagtinge vir die Winterreënvalgebied het op die korttermyn verbeter maar daar is ‘n verwagting van reën in November as gevolg van verwagte sterk somerstelsels wat oes van wintergrane kan benadeel.
- Baie koue toestande met ryp is moontlik vanaf 18 tot 21 Augustus met verdere koue toestande in die eerste week van September oor die sentrale en suidelike dele van die land.
- Die waarskynlikheid vir baie laat ryp en koue in die lente en vroeë somer is hoog oor die sentrale tot suidelike binneland.
1. Huidige toestande
Baie droë toestande met minder as 50% van die normale reënval het het oor die grootste deel van die Winterreënvalgebied voorgekom vanaf die tweede deel van Junie, die hele Julie asook eeste twee weke van Augustus waar droogte die wintergraanoes in die weegskaal geplaas het. So byvoorbeeld het Malmesbury in die Swartland vanaf 1 Mei 2022 tot 16 Augustus maar slegs 130mm gehad in vergelyking met die langtermyngemiddelde reënval vir hierdie tydperk van 210mm (62%).
Bredasdorp in die Overberg het ook ongeveer 130mm gehad teenoor die verwagte 170mm (75%). Uit ‘n agronomiese oogpunt is die vegetatiewe stadiums van wintergrane minder droogte sensitief as die reproduktiewe stadiums wat baie vinnig vanaf die tweede deel van Augustus begin plaasvind maar veral in September waar droogte groot oesverliese kan veroorsaak. Met verwagte beter reënvaltoestande vir die res van Augustus en September kan dit baie help om groeitoestande te laat stabiliseer en te verbeter (sien afdeling oor Winterreënval voorspellings, 3.2).
Die somergraanoes is ingesamel met baie variërende opbrengste wat gewissel het tussen rekordopbrengste in goedgedreineerde gronde tot byna totale misoeste waar versuiptoestande voorgekom het. In sommige gedeeltes is landerye steeds baie nat en waterversadig en sal probleme veroorsaak om te bewerk en te plant, veral as gemiddelde tot bogemiddelde reënval weer gaan voorkom.
Een van die grootste risikos tans vir veeboere is die uitbraak van bek-en-klouseer. Lentetyd is gewoonlik die periode om aantaalvee te verkoop en as dit nie moontlik is nie, kan daar te veel diere wees vir beskikbare voer en kan dit ernstige gevolge hê op kontant- en voervloei. Die voedingswaarde van natuurlike grasveldweiding is tans ook baie laag as gevolg van die oormaat reën in die vorige seisoen wat voedingstowwe uitgeloog het.
Die brandseisoen begin ook nou ‘n ernstige risiko inhou met meer winderige en warmer toestande. Met verwagte min reën in die Somerreënvalgebied tot ten minste die einde van Oktober, kan September en Oktober ‘n baie groot brandrisiko laat inhou.
Damvlakke in die Somerreënvalgebied is steeds op baie hoë vlakke met Vrystaatdamme wat steeds op 99.6% van vol volume is. Op 15 Augustus was die Vaaldam steeds op 100.1%, Bloemhofdam op 106%, Vanderkloofdam op 99.5% en die Gariepdam op 97.7%. Weskaapse damvlakke is gemiddeld ongeveer 13% laer as in 2021 maar steeds op 65% van vol kapasiteit teen die middel van Augustus 2022 (laasjaar dieselfde tyd was vlakke op ongeveer 78%). Ooskaapse damme is ongeveer 18% voller as verlede jaar dieselfde tyd maar kritiese lae vlakke bly steeds voorduur in die belangrike Kougadam (16.7% tans teenoor 4.5% verlede jaar) en Impofudam tans met 10% teenoor 16% verlede jaar.
Die watervlak van die Karibadam is op 27% teenoor 46% verlede jaar dieselfde tyd terwyl die Katsedam in Lesotho op 88.5% is en die Mohaledam op 100.1%. Die Hardapdam in Namibië was in die middel van Augustus 2022 op 63.1% en die grootste dam, die Neckartaldam op 97.7%.
2. ENSO en Indiese Oseaan
2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)
Die belangrike Nino3.4-gebied het weer begin koeler word in die laaste paar weke vanaf ongeveer 0.5°C koeler as normaal in Julie tot ongeveer 1.1°C koeler as normaal tans en wat ‘n matige La Nina verteenwoordig. Hierdie waarde van 1.1°C koeler as normaal is nie ver van die piek wat bereik is in Mei 2022 van 1.2°C koeler as normaal nie. Dit is baie betekenisvol in vergelyking met Augustus 2021 toe dit slegs 0.2°C koeler as normaal was en in die neutrale fase op daardie stadium. Sterker La Nina-toestande het eers in Oktober 2021 begin ontwikkel.
Hierdie waarde van see-oppervlaktemperature wat in Augustus 2022 bereik is, vergelyk baie goed met Augustus maande tydens baie sterk La Nina-verskynsels in die verlede: 1973 (-1.1°C), 1975 (-1.1°C), 1988 (-1.3°C), 1999 (-1.0°C) en 2010 (-1.0°C).
Die meeste voorspellings toon dat La Nina-toestande gaan verswak vanaf ongeveer Desember 2022 om neutrale waardes te bereik vanaf ongeveer Januarie/Februarie 2023 (tussen +0.5°C en -0.5°C).
2. 2 Indiese Oseaan
Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks het nou oorgegaan in ‘n sterk negatiewe fase vanaf Julie 2022 en behoort aan te hou tot Desember 2022. (‘n Negatiewe IOD is kenmerkend van koeler water nader aan die Afrikakuslyn maar warmer ooswaarts na Australië). Kyk hieronder na die moontlike impak op reënval (3.1 Somerreënvalgebied).
Die huidige IOD indeks het baie sterker ontwikkel as verlede jaar dieselfde tyd en een van die sterkste ontwikkelings in ten minste die laaste vyf tot tien jaar. Dit is baie betekenisvol, ook gesien in die lig van die versterkende La Nina.
3. Reënval en klimaatsvooruitsigte
3.1 Somerreënvalgebied
Met sterk positiewe reënvalseine van beide die herontwikkeling van La Nina sowel as die IOD, is die volgende die mees moontlike uitkomste in terme van reënval en temperatuur:
3.1.1 Limpopo, noordelike dele van Gauteng en die Laeveld
Langtermyn: Ondergemiddelde reënval tot ongeveer Oktober maar gemiddelde tot bogemiddelde reënval vanaf November tot Februarie. Moontlike droër toestande in die tweede deel van die somer vanaf Februarie tot Mei. Ryp kan voorkom tot die eerste week van September oor die suidelike dele van Limpopo en aangrensende dele van Gauteng.
Korttermyn: Baie min of geen reën tot die einde van September.
Temperature: Baie warm toestande kan oor die westelike dele verwag word vanaf die tweede deel van September en die grootste deel van Oktober.
3.1.2 Suidelike dele van Gauteng, Hoëveld van Mpumalanga asook noordoostelike dele van die Vrystaat
Langtermyn: Ondergemiddelde reënval tot Oktober maar gemiddeld tot bogemiddeld vanaf die laaste deel van Oktober tot Januarie. ‘n Droër periode is moontlik vanaf Februarie. Ryp is moontlik tot in die eerste deel van Oktober.
Korttermyn: Baie min reën tot ten minste die einde van September. Lae temperature en ryp kan voorkom vanaf 18 tot 21 Julie.
Temperature: Lae minimum temperature tot die middel van Septemnber maar sal vinnig warm word vanaf die laaste deel van September.
3.1.3 Noord-Kaap (noord van die Oranjerivier), Noordwes Provinsie en sentrale tot westelike dele van die Vrystaat
Langtermyn: Ondergemiddelde of baie min reën tot middel November maar gemiddeld tot bogemiddeld in Desember tot Februarie. Minder reën vanaf einde Februarie 2023. Die kans vir baie laat ryp en koue is weer groot met ryp moontlik tot ten minste die middel van Oktober, veral in die suidelike dele.
Korttermyn: Baie min of geen reën tot ten minste die einde van Oktober. Baie lae temperature vanaf 18 tot 21 Augustus en ook ryp moontlik in die eerste week van September.
Temperature: Baie warm vanaf die laaste deel van September maar veral Oktober en eerste deel van November.
3.1.4 Oos-Vrystaat, suidelike dele van KZN asook noordelike/noordoostelike dele van die Ooskaap
Langtermyn: Reënvaltoestande behoort te verbeter vanaf die tweede deel van September. Lae temperature tot die einde September.
Korttermyn: Ligte reën wat gepaard kan gaan met sneeu op hoërliggende gebiede van die Ooskaap is moontlik vanaf 18 tot 21 Augustus
Temperature: Lae minimumtemperature tot middel September.
3.1.5 Suidelike dele van die Noordkaap en aangrensende dele van die Ooskaap
Langtermyn: Droë toestande tot Oktober/November. Gemiddelde tot bogemiddelde reënval vanaf ongeveer Desember. Baie koue toestande is steeds moontlik tot ten minste die einde van September met ryp.
Korttermyn: Baie koud met ryp vanaf 18 tot 21 Augustus asook die eerste week van September.
Temperature: Baie koue toestande kan nog voorkom tot ten minste die derde week van September.
3.1.6 Ooskaapse Kusgebiede en res van Tuinroete
Langtermyn: Daar is ‘n moontlikheid van reën vanaf ongeveer September met die migrasie van winter- na somerreënvalpatrone. Daar is selfs ‘n moontlikheid van lokale vloedtoestande, veral die Ooskaapse kusgebiede.
Korttermyn: Meer as 20mm reën is moontlik vanaf 18 tot 31 Augustus maar lyk nie genoeg om damvlakke aan te vul nie.
Temperature: Koel tot matig maar baie warm vanaf Oktober.
3.1.7 KZN binneland en noordelike kusgebiede
Langtermyn: Kusgebiede kan reeds vanaf September begin om reën te kry wat later kan uitbrei na die noordoostelike binneland.
Korttermyn: Ligte reën is reeds moontlik vanaf die laaste week in Augustus, veral oor die kusgebiede.
3.2 Winterreënvalgebied
Langtermyn: Gemiddelde tot ondergemiddelde reënval in September en Oktober maar ‘n verhoogde kans vir reën in November as gevolg van die La Nina ontwikkeling.
Korttermyn: Die kanse is goed dat tussen 20mm en 50mm kan voorkom voor die einde van Augustus oor veral die wintergraangebiede. Die tydsberekening van reënval is baie betekenisvol met wintergrane wat nou in die belangrike reproduktiewe fases ingaan. Gereelde ligte neerslae kan baie gunstig wees om droogteskade te beperk.
3.3 Namibië
Baie min verdere reën word verwag tot ten minste November maar gemiddelde tot bogemiddelde reënval is moontlik vanaf die laaste deel van November. Temperature gaan baie warm wees oor die noordelike dele vanaf die laaste week in Augustus maar sal koud wees en moontlike ryp vanaf 18 tot 21 Augustus oor die Suidelike dele.
4. Vrywaring:
Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.
More from my site
- Minder as 50% van die gemiddelde reënval het voorgekom in dele van die land in die 2018/19-seisoen
- Koue temperature word verwag in die eerste week van Julie
- Nog reën in Meimaand vir somerreënvalgebiede verwag
- Klimaat- en Landboutoestande
- Nog reën is op pad in Februariemaand
- Weervooruitsigte vir 2022